![](https://static.wixstatic.com/media/24e7aa_1d68f61dffdb48159f3b29c98390d63f~mv2.png/v1/fill/w_500,h_500,al_c,q_85,enc_auto/24e7aa_1d68f61dffdb48159f3b29c98390d63f~mv2.png)
Die blindings is oop - op 'n skrefie. Die son moet kan in sien maar die bure nie want sy sit met haar b...ates oop en bloot. Hulle het gesê vitamine D sal help met die droë, bloederige affêre wat stelselmatig haar sagte, plooibare paar vroulikhede se plek ingeneem het die afgelope week. Moeg jaag sy die hond van die bed af voor hy op haar eersteling se kop trap. Die baba het geelsug en hulle het gesê vitamine D kan daarvoor ook help; so baba en borste lê tans naak in die skrefies son - al wiegend, soos die wind die blindings laat dans.
Hulle het 'n hele klompie goed ook nié gesê nie. Sy kan hulle seker nie daarvoor kwalik neem nie; it wasn't for lack of trying. Vir die afgelope 9 maande het sy geduldig geluister na al wat 'n boereraat is van diégene met en sonder kinders, gevraagd en ongevraagd. Een van die goed wat hulle nié gesê het nie het te doen met hardlywigheid en tydsberekening... Aan die begin was dit nie 'n uitdaging nie want haar maag het eers ses dae na kraam vir die eerste keer weer gewerk. Maar van toe af verg haar dae 'n fyn balans tussen growwe oats, baie water en die te-kort tydgleuwe wanneer baba fisies aan die slaap is. Gelukkig is die badkamermatjie lekker sag en pas ‘n klein, kriewelende babatjie mooi in die middel van die mat wanneer die fynste beplande skedules wel genadeloos bots.
Oor borsvoeding het hulle baie te sê gehad, tog voel sy leek uitgelewer en onvoorbereid vir die seer, salige, snot-en-trane situasie wat homself steeds elke drie ure voordoen. Wanneer die baba moet voed.
Drie ure is baie lank en baie kort. Vandag is dit baie kort.
Daar is nog net sewe minute oor voordat sy veronderstel is om die baba wakker te maak. Hulle het gesê mens kan enige iets van 'n koue wetwipe tot 'n toonkielie of wangmassering probeer om hom wakker te kry. Die probleem is dat sy skuldig genoeg, verskriklik daarteen op sien... Sy weet al teen hierdie tyd wat vir haar wag.
Sien; die keisersnit ("die wond", soos die verpleegspersoneel dit noem...) is sererig - maar die pynpille help daarvoor.
Die min slaap is 'n aanpassing - maar die gereelde uiltjies deur die dag help daarvoor.
Maar die borsvoeding.
Die borsvoeding is 'n nagmerrie.
Niks help daarvoor nie.
Nie eers die skrefies son wat sy so getrou uitsoek op die handjie vol dae wat die wolke padgee in die middel van die nat winter in die Kaap nie. Ook nie die potgoud-vir-40ml buisie pers salf waarmee sy soos 'n verslaafde haar borste poets na elke voeding nie. Plus, haar doelgerigte "dit sal nie met my gebeur nie" houding het toe nie gewerk nie want dié twee gloei rooi-warm van die Mastitis. Vind sy gister eers uit. Voorbereidende aanlyn-video’s en konstante kommentaar oor koolblare het haar nie regtig gehelp om dié naarheid te identifiseer nie - in haar eersteling-onkunde het sy gedink dat dit maar net is hoe borsvoeding voel; so grin and bear it, Mamma.
Vyf minute voor die wekker sou afgaan word die baba vanself wakker. Sy voel effe ingedoen. Krom kry sy hom uiteindelik aan haar bors. Die trane loop. Haar man dra tee aan en hou haar skuins vas wanneer haar tone krul en sy haarself papnat sweet van die pyn. Die doek word geruil, die winde uit gevryf, dan 'n wiegeliedjie om beide haar en die baba te sus. Sy swaddle hom een, dan ‘n tweede keer en uiteindelik lê sy hom neer om (verbasend genoeg) vir ‘n oomblik alleen te slaap in sy eie kot.
Daar is 74minute oor voor die volgende rondte.
Met die koms van nog 'n nuwe week (besef sy toevallig toe iemand 'n boodskap stuur wat verwys na die datum) spoel sy die toilet, gaan sit nog versigtig op die bank, drink haar koue koffie en gesels met haar man. Beide probeer hul koppe om die legio oomblikke kry wat die vreemde, vreedsame fiasko van die afgelope weke vir altyd sal definieer. Sy het elkeen intensioneel probeer inneem - die oomblikke: Daar was die geboorte in 'n wit en blou teater en dieshakes in die herstelkamer na die tyd. Die oomblik toe sy daardie eerste skree-geluid gehoor het en die trane in haar man se oë toe hy sy kind vir die eerste keer sien. Vier lang dae in die hospitaal en die baba se eerste bad. Die pediater wat grootoog kom verduidelik van byvoeding en maksimum 10% gewigsverlies en die kere dat sy met haar eie warm bondeltjie salig in haar arms aan die slaap geraak het. Die klein kreungeluidjies wanneer baba gelukkig wakker is en die miniatuur trane-druppels wanneer iets die klein lyfie hewig ontstel - nugter alleen weet natuurlik wat. Die sagte, warm asempie in haar nek, 'n nies, 'n gaap en die skrik-vir-myself-gesiggie wanneer baba kliphard 'n splinternuwe doek vuil maak.
Dié maande saam met haar eersteling was nie ligte musiek nie. Nee, hierdie suite was crescendo. Is volroomryk.
Die blindings is vandag wawyd oop soos sy gemaklik staar na die sagte reën. Daar is 'n fraai kombersie oor haar skouer wat die baba op haar bors bedek. 'n Klein swart hondjie krul op haar skoot en deel in die snoesigheid. Die son gaan nie vandag in sien nie maar die bure kan gerus. Haar realiteit is trots ontbloot vir die wat oë het om te sien.
Sy maak oogkontak met ‘n waggelende dame in die straat en glimlag breed - opreg. Nog ‘n eersteling is op pad.
Dis goed.
Dis alles mooi.
Daaroor was hulle wel reg.
MK Wiggett
September'21 - September'22
Comments